CHRISTENDOM EN ISLAM

CHRISTENDOM EN ISLAM het een belangrike eienskap in gemeen. Albei is – soos ook die Judaïsme* – monoteïsties*. ’n Paar eeue lank het die denke van die Christene en Moesliems dat in Gods-diens geloof en rede saam gaan, min of meer in parallelle bane ontwikkel. Die Hellenis­tiese* invloed op die Vroeë Kerk* het daartoe bygedra dat die rede beklemtoon is. Die Islam het aanvanklik iets soortgelyks beleef. In die eerste deel van die Middeleeue het die Arabiere die botoon in die Midde-Ooste gevoer en ’n skitterende beskawing het tot stand gekom met Kaïro en Bagdad sentra van kultuur en geleerdheid. Die (“beskaafde”) Arabiere is egter mettertyd deur die (“onbe­skaafde”) Turke onderwerp, en die “rede” is by baie Moesliems vervang deur ’n minder rede-like, fundamentalistiese* benadering van die geloof. In die 18de eeu het die idees van die invloedryke Mohammed ibn Abd al Wahhab hierdie benadering versterk, meen die historikus Leopold Scholtz. Daar is egter tot vandag toe teenstrydige stromings in die Islam* en om almal oor een kam te skeer – as “nie-redelik” en fundamentalisties en daarom meer geneig tot onverdraag­saam­heid en geweld – is onbillik, skryf die teo­loog Gerrit Brand*. Een van die felste kritici van hedendaagse Moesliem-geweld wat in die naam van God gepleeg word, is bv die Iranse skrywer Reza Aslan.

In die Christendom* het die “rede” óók dikwels die knie gebuig voor ’n fundamentalistiese, en daarmee saam onverdraag­sa­me, benadering. Die Kruistogte* is hiervan ’n voorbeeld, soos ook die kerk* se onderdrukking van nuwe denke in onder andere die geval van Galileo*. Dit duur tot vandag toe voort, ook in Protestantse* kerke.

In die eerste jare van die 21ste eeu is ’n verharding van gesindhede tussen die Chris­tendom (of dele daarvan) en die Islam (of dele daarvan) versterk deur die 9/11-“Aanval op Amerika” (Kyk by: Nine-Ele­ven). Terwyl pous Johannes Paulus II* dia­loog met Islam bevorder het – onder meer deur in 1986 ’n reeks intergodsdiens-gesprekke by Assisi in Italië te inisieer – het opmerkings van sy opvolger, pous Bene­diktus XVI*, by die Universiteit van Regens­burg in 2006 ’n negatiewe reaksie in die Moesliem-wêreld ontlok. Dié opmerkings is verstaan as dat die pous Islam as “minder rede-lik” en die Christendom as “meer rede-lik” voorgehou het, die een as meer en die ander as minder geneig tot geweld, en dat hy deur ’n aanhaling uit die 14de eeu Mo­ham­med* in ’n slegte lig gestel het. Terwyl die huidige Weste en die Christendom glad nie met mekaar vereenselwig mag word nie, is dit so dat daar ’n groter-wordende af­grond tussen die Weste en groot dele van die Moesliem-wêreld gaap, dat dit groter spanning bring tussen die Christendom en Islam, en dat dialoog deur baie afgewys word ten gunste van konfrontasie.

Die opkoms van ekstremistiese fundamentalistiese Islamitiese terreurgroepe soos IS (“Islamitiese Staat”) en Al-Sjabaab het in 2015 tot die onthoofding en fusilering van Christene in onder meer Kenia en Libië gelei. IS het in die Midde-Ooste, veral in dele van Irak en Sirië, ’n skrikbewind gevoer en Christene geteiken – onder meer deur hulle ekstra belasting te laat betaal in plekke waar IS mag in die hande gekry het. Dit het uiteraard verdere spanning tussen die Christendom en Islam gebring, hoewel IS en Al-Sjabaab se sieninge – en hulle verstaan van die opdragte van die Koran* – nie naastenby dié van die hoofstroomdenke van Islam is nie. (Kyk ook by: Islam; Christen-vervolging; Martelaars.)

 

Sidebar