CHRISTOLOGIE

CHRISTOLOGIE is die leer oor die Per­soon en werk van Jesus* na aanleiding van name, titels en voorstellings wat in die Nuwe Testament* vir Hom gebruik is. Die eerste Christene* het Jesus beskryf met bekende Joodse* name soos Messias*, Seun van God*, Heiland, Here*, Seun van die mens*, Lam van God* en die Dienaar van die Here* (bv Hand 2:36). Die naam “Christus*” verwys na gesalfde of Messias, ’n belangrike verwagting in die Jodedom wat gebaseer was op gedeeltes in die Ou Testament*. In die Jodedom is daar verskeie Messiasse verwag – onder andere ’n priesterlike, ’n koninklike en ’n profetiese Messias, soos die bekende Dooie See-rolle* onthul. Die Messias-titel is in die Evan­ge­lies* verbind aan die lyding van Jesus – waardeur ’n nasionalistiese Messiasverwag­ting* verwerp is.

Die Christologie van die eerste Christene hang ten nouste saam met die dood en opstanding* van Jesus. Jesus is opgewek en verhoog tot die hoogste ereposisie (aan die regterhand van God) as God se daad van erkenning vir sy selfopofferende kruisdood (Hand 2). Hierdie fundamentele oortuiging is al hoe meer verbind aan die geloof oor die skepping* (bv Kol 1:15). In an­der later geskrifte soos die Johannes-Evan­gelie* word sy bestaan vóór die skepping uitgespel en beklemtoon dat Hy God se finale openbaring aan die mensdom is (vgl Joh 1).

Elke skrywer van die Nuwe Testament beklemtoon ’n besondere aspek van Jesus: dit wissel van ’n aardse Christologie waarin Jesus ’n verborgenheid verteenwoordig (Markus*), of waarin Jesus as laaste Profeet soos Moses* die verhoogde Here is wat nou in die Gees* sy gemeente* lei (Lukas*, Handelinge*), tot by Paulus* waar Jesus besondere eer aan die regterhand van God het (Fil 2).

Die Christendom as monoteïstiese* gods­diens het Jesus as Persoon gesien wat saam met God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees een Wese, ’n Drie-eenheid*, vorm.

Sidebar