CHRISTUS-DIE-VERLOSSER-BEELD

CHRISTUS-DIE-VERLOSSER-BEELD in Rio de Janeiro, Brasilië, is in 2007 aangewys as een van die “Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld”. (Dis te onderskei van die “Sewe Nuwe Natuurwonders van die Wêreld”, waarvan Tafelberg een is, en wat in 2012 aangewys is.) Dié beeld, landmerk en ikoon van Rio de Janeiro en Brasilië en enigste van die sewe nuwe wonders wat uit die moderne tyd dateer, is 38 m lank en weeg meer as 700 ton. Die standbeeld staan op die piek van die Corcovado-berg in die Tijucawoud-Nasionale Park. Dit is in 1931 opgerig en deur die Frans-Poolse beeldhouer, Paul Landowski, geskep.

Die projek om die “Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld” aan te wys, is in 1999 van stapel gestuur deur Bernard Weber, ’n Switserse rolprentmaker. Meer as 90 miljoen mense wêreldwyd het “gestem”, veral deur die internet. Die ander “nuwe wonders” is die Groot Muur van China, Petra in Jordanië, Macchu Pichu in Peru, Chichen Itza in Meksiko, die Colosseum in Rome, Italië, en die Taj Mahal in Agra, Indië. Van die antieke “Sewe Wonders van die Wêreld” bestaan nog net die Egiptiese piramide by Giza in Egipte. Die ander was die hangende tuine van Babilon, die standbeeld van Zeus by Olimpus in Griekeland, die tempel van Artemis naby die antieke stad Efese, die Mausoleum van Halikar-nassus in wat vandag Bodrum in Turkye is, die Kolossus van Rhodus op die eiland Rhodos, Griekeland, en die Pharos-vuurtoring in Aleksandrië, Egipte.

Vir verdere lees: www.wikipedia.org

 

 

Sidebar