CHRISTUS: UITBEELDING IN KUNS­TE

CHRISTUS: UITBEELDING IN KUNS­TE. Uitbeeldings van Jesus* Christus* kom van vroeg af in die kuns voor. Leonardo da Vinci* se Laaste Avondmaal en Michelan­gelo* se Piëta is twee bekende voorbeelde uit die Renaissance*-tyd. Die Katolieke Kerk* het min probleme gehad met die uitbeelding van Christus in die kuns en tallose beelde van die gekruisigde Jesus is deur die eeue in Katolieke kerkgeboue aangebring. Met die Hervorming* het daar by Prote­s­tante* ’n verandering van siening gekom – ook omdat hulle in Katolieke geledere ’n ge­neigdheid tot “beelde-aanbidding” ge­waar het, in stryd met die tweede gebod (Eks 20:4-5). Vandaar die destydse beeldebe­storming en die afwysing van beelde van enige skepsel in die kerk – en ook die af­wysing van skilderye en beelde van Chris­tus.

Die voorstelling van Christus in ’n skil­dery/beeldhouwerk/film/drama/roman het tot in ons tyd vir baie Protestante, en veral gereformeerdes*, problematies gebly. Chris­tus was mens, maar ook God: die God-mens. Ons weet nie hoe Hy gelyk het nie. Daarom het veral Kinderbybels soms heftige kritiek uitgelok. In die vroeë 1990’s het daar ’n matige verandering in die NG Kerk* se siening gekom, toe die Algemene Sinode daarop gewys het dat Jesus aan die begin van ons jaartelling as ’n mens onder mense in Palestina geleef en gewerk het: Iemand kon Hom gesit en teken het toe Hy sy Bergpreek gelewer het, selfs ’n foto van Hom geneem het as daar destyds al kameras was. Sy Godheid was nie sommer sigbaar nie – daarom het baie ook nie in Hom geglo nie. ’n Hedendaagse kunstenaar sou dus sy kunstenaarsverbeelding kon inspan en ook van Hom ’n skildery of beeld kon maak. ’n Roman of drama oor Hom, waarin Hy as (God-)mens voorgestel en sy gedagtes en gemoedstoestand “uitgebeeld” word, bly wel problematies omdat geen kunstenaar hom of haar dit werklik geloofwaardig (en daarom ook esteties-oortuigend) kan voor­stel nie. Tog laat die feit dat Hy as ware méns op aarde kom leef het, die moontlikheid in beginsel oop dat Hy na sy mens­heid in alle kunsvorme uitgebeeld kan word.

Sidebar