CHURCHILL, WINSTON LEONARD SPENCER

CHURCHILL, WINSTON LEONARD SPENCER (1874–1965) het ’n adellike opvoeding gehad en het ná sy militêre opleiding deelgeneem aan veldslae in Spanje en Kuba (1895) en Indië en Egipte (1898). Hy was daarna oorlogskorrespondent in Suid-Afrika gedurende die Anglo-Boereoorlog*. Hy was van 1902-1922 lid van die Britse kabinet en het belang­rike maatskaplike hervormings deurge­voer om onder meer werkloosheid te be­kamp. Tussen 1929 en 1939 het hy egter geen kabinetspos be­klee nie.

Die mislukking van die Britse paaibeleid teen Adolf Hitler* het uiteindelik tot Churchill se aanwysing as eerste minister gelei (Mei 1940). Hy het belangrike bondgenootskappe met die Amerikaanse president Franklin D Roose­velt en die Russiese diktator Josef Stalin* gesluit wat bygedra het tot die geallieerde oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog*. Met sy beroemde toespraak in Missouri in Maart 1945 oor die ystergordyn wat oor die Russies-beheerde dele van Oos-Europa ge­sak het, het hy die era van die Koue Oorlog uitstekend getipeer. Hy het die Ameri­kaanse beleid teen wêreldwye kommunistiese* uitbreiding sterk gesteun en was van 1951 tot 1955 weer Britse premier.

Churchill se onverbiddellike weerstand teen Hitler se haas onkeerbare uitbreidingsdrang, soos ook sy bondgenootskap met Rusland teen Hitler – hoewel hy sterk anti-kommunistiesgesind was – het die 20ste eeuse geskiedenis wesenlik beïnvloed. Dit is in ’n groot mate aan hom te danke dat Hitler se Nazïsme uiteindelik in sy spore gestuit is – maar deur sy gedwonge samewerking met Stalin het kommunisme ’n houvas gekry. Churchill word beskou as “Die Grootste Brit van die 20ste Eeu”, was ’n lojale maar onaktiewe lidmaat van die Church of England (Anglikaanse* Kerk), en in sy toesprake het geloof in God nie eintlik ’n plek gehad nie.

Sidebar