CILLIÉ, PETRUS JOHANNES (PIET)

CILLIÉ, PETRUS JOHANNES (PIET) (1917–1999) is die seun van ’n eertydse rektor van die Universiteit van Stellenbosch (US), prof Gawie Cillié*1, en broer van die wiskunde-, kerkmusiek- en sterrekunde-kenner, prof Gawie Cillié*2. Hy was die redakteur van Die Burger van 1954 tot 1977, daarna professor in joernalistiek aan die US, voorsitter van Naspers en ’n leidende gees van die Kaapse Afrikaner*-establishment. Hy is deur US met ’n eredoktorsgraad vereer.

Cillié was ’n briljante, enigmatiese, soms bruuske intellektueel wat as menings­vormer wye invloed in bepaalde Afrikaner­kringe gehad het. Sy voorbehoude oor aspekte van die apartheidsbeleid* het hom in botsing gebring met onder andere die destydse eerste minister, dr HF Verwoerd*, veral tydens die Cottesloe*-gebeure van 1960 en 1961. Cillié het die besluite gesteun wat tydens dié kerkeberaad geneem is, en daarin ernstig verskil van Verwoerd en die meeste kerklidmate van daardie tyd.

Cillié het egter nie verder gegaan in sy verset teen die rigting van die Nasionale Party nie, hoewel hy dit voortdurend op ’n “verligte” manier vertolk het. Sy onder­steuning van politieke hervorming, en veral van regstreekse verteenwoordiging van die “Kleurlinge” in die parlement, het vir hom baie politieke vriende én vyande gemaak. Hy het ernstig gebots met die destydse redakteur van Die Kerkbode*, dr AP Treur­nicht*, en dié se opvolger, dr WJG Lubbe*, wat albei meer behoudende standpunte oor die politiek daarop nagehou het. Cillié was ’n lidmaat van die NG Kerk* en ’n gelowige, maar nie in die ortodokse sin van die woord nie.

Ander fasette van sy persoonlikheid het na vore gekom in sy skryfwerk vir kinders – maar eintlik vir grootmense bedoel – soos sy kostelike “Trinkie-briewe” in die destyd­se Byvoegsel tot Die Burger, en sy liefde vir die kerkorrel, wat hy graag bespeel het. Sy boeke sluit in Tydgenote, Baanbrekers vir vryheid en Eet jou rape eerste.

Vir verdere lees: JC Steyn 2002. Pen­- v­egter, Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.

Sidebar