CILLIÉ1, GABRIËL GIDEON (GA­WIE)

CILLIÉ1, GABRIËL GIDEON (GA­WIE) (1870–1958) het op Blaauwvlei naby Wellington grootgeword. Hy behaal sy BA in 1897 aan die Victoria-kollege, die voorloper van die Universiteit van Stellenbosch (US), MA in 1900 in Edinburg, en sy doktorsgraad in 1904 in Straatsburg. Hy was hoof van twee hoërskole voordat hy in 1908 hoogle­raar in klassieke tale op Stellenbosch, professor in opvoedkunde en van 1919 tot 1925 die eerste rektor van US geword het. Cillié het in leidinggewende posisies in talle organisasies gedien, onder meer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns waar hy hom veral vir die Afrikaanse* kultuur en Christelik-nasionale* onderwys beywer het. Op kerklike vlak was hy aktief as ouderling* en lid van die beheerkomitee van Kerk­bode*. Sy seun en naamgenoot, Ga­wie (Kyk by: Cillié2 ), was later professor in wiskunde aan die US, bekende sterrekundige en orrelis van die plaaslike Moedergemeente. Nog ’n seun, Piet (Kyk by: Cillié, PJ), was onder meer redakteur van Die Burger.

Sidebar