CILLIÉ2, GABRIËL GIDEON (GA­WIE)

CILLIÉ2, GABRIËL GIDEON (GA­WIE) (1910–2000) was die derde seun en naamgenoot van prof GG Cillié*, eertydse rektor van die Universiteit van Stellen­bosch. Cillié jr is by geleentheid bestempel as die persoon wat waarskynlik die grootste enkele bydrae gelewer het tot die bevorde­ring van kerkmusiek in Suid-Afrika. Gebore Stellenbosser, is sy lewe gekenmerk deur veelsydigheid. Hy was wiskundige, sterrekundige, kerkmusiekkenner, orrelis en kultuurleier. Hy het op 23 sy doktorsgraad in astrofisika aan die Universiteit van Oxford behaal, en daarna ’n MA in sterrekunde aan die Harvard-universiteit. Van 1939 tot 1975 was hy professor in wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In dié tyd was hy orrelis en koorleier van die NG Moederkerk op Stellenbosch, leier van die Universiteitskoor en stigterdirigent van die Kweekskoolkoor. Hy het drie boeke oor sterrekunde geskryf en was sedert 1932 lid van die Royal Astronomical Society in Londen. Ná sy aftrede op Stellenbosch is hy aangestel as dosent in kerkmusiek aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy het ’n buitengewone groot aandeel gehad in die 1978-Afrikaanse Gesangeboek. Oor die kerklied het hy gesê: “Om ’n kerklied vir ’n jong kind te leer, is meer werd as al die inkleurboeke wat daar is, want dit kan dwarsdeur sy lewe vir so iemand ’n bron van geestelike krag wees.” Van 1979 tot 1985, in ’n tyd van intense woelings in die geledere van Afrikaners*, was Cillié voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurliggame (FAK) en het hy met sy gebalanseerdheid en gentlemanskap ’n gematigde invloed uitgeoefen. Hy het eredoktorsgrade van die universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch ontvang, en die Orde vir Voortreflike Diens in 1985 van die destydse staatspresident. Gawie Cillié jr, broer van die ewe legendariese Piet Cillié*, was in baie opsigte ’n verpersoonliking van die beste van die Afrikaners in die 20ste eeu.

 

Sidebar