CILLIERS-BARNARD, BETTIE

CILLIERS-BARNARD, BETTIE (1914–2010) was ’n Rustenburgse plaasdogter wat vir ver meer as ’n halfeeu een van Suid-Afrika se belangrikste eksponente was van die ab­strak­te, die non-figuratiewe kuns.Vandat sy Parys in 1948 die eerste keer besoek het, het Cilliers-Barnard in haar kuns ’n ver pad geloop: figuratiewe abstraksie (1949–1956), nie-figuratiewe abstraksie (1956–1966), mi­s­tieke simboliek (1966–1971), aardse simboliek (1972–1984), gekonsolideerde simboliek (1984–2010). Van haar werk sê sy self: “Die sentrale gedagte in my werk lê opgesluit in die mens – in sy totaliteit gesien. Die mens, die mensheid, loop soos ’n draad deur al die fases van my ontwikkeling. Moontlik sien ek die mens in die vorm van ’n verti­kale lyn. Vanaf sy aardse bestaan en be­hoeftes strek sy gees na die verre ruimtes, na die verste lig. Sodoende word die mens deel van die groot heelal, van die Skepper – Hy wat wás, ís en sál wees” (1994). Willa de Vos skryf oor haar: “Vir die gelowige praat die simbolisme in Cilliers-Barnard se werk ’n duidelike taal: die sirkel word ’n verwy­sing na God, die volmaakte, die onveranderlike, die kragbron. Die driehoek herinner aan die God-mens-medemensverhouding; die kruis is die punt waar God en mens mekaar ontmoet; die boom laat dink aan die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad. Geloof, hoop en liefde – dit is die taal waarin die kuns van Cilliers-Barnard praat.”

Vir verdere lees: Muller Ballot 1996. Bettie Cilliers-Barnard – Bowêreldse perspektiewe. Kaapstad: Human en Rousseau.

 

Sidebar