CILLIERS, PIETER JOSHUA

CILLIERS, PIETER JOSHUA (1952–) is ’n bekende Suid-Afrikaanse TV-regisseur en -vervaardiger met programme soos Carte Blanche en Kwêla op sy kerfstok. Hy was predikant* van die Nederduitsch Hervorm­de Kerk* van Afrika, en is gay*. Cilliers het grootgeword naby Moedwil in die distrik van Rustenburg. Hy het studeer aan die Universiteit van Pretoria en was daarna predikant in Bothaville en Pretoria-Sentraal. Hy skryf in sy boek ’n Kas is vir klere (1997) oor sy lang en bitter stryd om tot selfaanvaarding te kom. Die geslag Afrikaners* waaruit hy gestam het, die kerk waarvan hy predikant was en die samelewing in die algemeen, was in die tweede helfte van die 20ste eeu baie afwysend teenoor homosek­sualiteit*. Cilliers het geworstel om die By­bel* oor hierdie saak reg te verstaan en het selfs drastiese sielkundige behandeling ondergaan om hom te “genees”, maar dit het niks verander nie. Diskriminasie in sy kerk het vir hom ’n al hoe groter probleem geword – nie net indirek teen homoseksuele mense nie, maar ook, vanweë die groot klem op die gedagte van ’n volkskerk, teen mense wat nie wit is nie. Cilliers het in 1981 regisseur van godsdiensprogramme by SAUK TV geword, en in 1989 Carte Blanche se regisseur by M-Net. In hierdie omgewing het hy algaande sy homoseksuele identiteit leer aanvaar en hy kon uiteindelik ook die nagmaal sonder skuldgevoelens gebruik. Cilliers het geweet wie hy is: “’n Vier-en-veertigjarige wit, gay, Christen, Afrikaner. Niks meer nie, niks minder nie.” In 2010 verskyn sy tweede boek in opvolging van ’n Kas is vir klere, te wete Soeker (die vertaling verskyn in 2013 as Pilgrim) met slotwoorde wat daarop dui dat daar verdere verskuiwings by Cilliers gekom het.

Vir verdere lees: Pieter Cilliers 1997. ’n Kas is vir klere. Kaapstad: Human en Rousseau. Pieter Cilliers 2010. Soeker. Pretoria: Protea-boekhuis.

Sidebar