CILLIERS, SAREL (CHARL) ARNOL­DUS

CILLIERS, SAREL (CHARL) ARNOL­DUS (1801–1871) was ’n vroom Christen* en leke-prediker wat ook bekend was as die “profeet van die Groot Trek” en (verkeerdelik) as die “vader van Dingaansdag”. Hy het ’n prominente rol gespeel as geestelike leier en ouderling tydens die Groot Trek en daarna binne die Republiek Natalia en die Oranje-Vrystaat.

Sarel Cilliers (hy het dié spelwyse verkies en dit is ook so in die doopregister aangete­ken) was in 1838 lid van die Voortrekker-­kommando onder leiding van genl Andries Pretorius* teen Dingane* en sy Zoeloe­magte. Cilliers se lekepreke uit die Ou Testament* het Pretorius op die gedagte gebring om ’n gelofte aan God te doen. Op Pretorius se versoek het Cilliers ná die erediens op 9 Desember 1838 by die Wasbankrivier ’n gelofte as deel van ’n gebed afgelê. Dit het gelui dat, indien God aan die Voortrekkers* die oorwinning gee, daar ’n kerk tot sy eer gebou sou word, en ook dat die Trekkers en hulle nageslag dié oorwinningsdag permanent tot eer van God sou herdenk. Die oorweldigende oorwinning oor Dingane se Zoeloe-impi’s op Sondag 16 Desember 1838, is deur Sarel Cilliers en talle gelowige mede-Voortrekkers regstreeks aan die ge­lofte* gekoppel. Hy het homself egter nooit as held van Bloedrivier beskou nie.

As ouderling* in die Republiek Natalia het Cilliers hierna ’n leidende rol in die aanstelling van eerw Daniel Lindley* as eerste geordende (Kyk by: Orden) predikant* van die Voor­trek­kers gespeel, asook in die oprigting van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. In die Vrystaatse Republiek was hy in 1860 prominent in die stigting van die Kroonstadse gemeente* waar hy tot Februarie 1866 die eredienste* en die kategese* behartig het. Cilliers het as ouderling nog die totstandkoming van ’n onafhanklike NG Kerk in die Oranje-Vrystaat beleef en tydens die eerste sitting van die Vrystaatse sinode is hy tot lid van die Sinodale Regskommissie verkies. (Kyk ook: Zoeloes en die Christelike geloof.)

Vir verdere lees: PS de Jongh 1987. Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor.

Sidebar