CLAASSEN, GEORGE

CLAASSEN, GEORGE (19??-) joernalis en dosent in wetenskapjoernalistiek, het grootgeword in die Hoëveldse dorp Middelburg. Sy ouerhuis is gekenmerk deur ’n pa en ma wat krities gedink het. Hy het hom in die joernalistiek begeef omdat “nuuskierigheid en die soeke na meer kennis” hom gedryf het. Hy was, volgens eie getuienis, “eens gelowig, intens gelowig”, en hy besit ’n Bybel* met heelwat onderstreepte tekste. Deur jare se bestudering van wetenskaplike bevindings en die belangrikheid van bewyse voordat hy iets kan en hoef te glo, het hy egter geleidelik van sy geloof afstand gedoen, ’n ateïs* geword en sy ongeloof in verskeie boeke uitgespel. In 2011 het hy in ’n brief aan Frits Gaum* geskryf: “Ek glo nie in God nie, maar dis vir my nogal verbasend hoe sommige gelowiges soos jy en ander teologie-mense ons tog verdra! (…) Het jy al daaraan gedink dat ons twee miskien as redakteurs ’n boek kan saamstel met essays waarin besin word oor die bestaan van God en wat dit beteken om gelowig of ateïsties te wees?” Die gevolg was ’n boek, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, waarin 24 bekendes oor hulle geloof, ongeloof en twyfel gepraat het. Claassen het bekend geword as ’n knap joernalis en hy was etlike jare die adjunkredakteur van Die Burger.

Vir verdere lees: Claassen, G 2007. Geloof, bygeloof en ander wensdenkery. Pretoria: Proteaboekhuis. Claassen, G en Gaum, F (reds) 2012 God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

Sidebar