CLAERHOUT, FRANS

CLAERHOUT, FRANS (1919–2006) is in Pittem, Wes-Vlaandere, gebore. Hy kom in 1946 as Katolieke* sendeling*-priester*2 na Suid-Afrika waar hy buite Bloemfontein werk. As selfonderlegde kunstenaar maak hy tekeninge en skilderye van swartmense wie se lewe daagliks verbind is met die on­ont­vlugbare kringloop van geboorte, voedselnood, siekte en die dood. Hy verbeeld die armoede* en die noodkreet wat op mens­waardigheid aanspraak maak. Hy skilder die swartmens as forse skulpturale figuur, ferm op die aarde geplaas om deel van die bo­dem te wees. Hy identifiseer hom met swartmense as medegelowiges.

In 1960 verhuis Claerhout na Thaba ’Nchu (Oos-Vrystaat) waar hy in 1972 ’n kerk, geskoei op die volkstradisie van die Sesotho’s, bou, bekend as Thabo ya kreste (Blydskap van Christus). Die godsdienstige temas in sy werk sentreer meestal rondom die herrese Christus*, dikwels nog met die doringkroon op, dwalend tussen sy aardse skepsels. Portrette van langgerekte, vereensaamde, droewige wesens met ’n do­ringkroon, het altyd die gesig van ’n swartman. Biddende vroue, asook die ma-kind-motief, boei hom ook. Hy had ’n suiwer aanvoeling vir ritme van lyne en toonwaardes en was ’n gebore storieverteller wie se werk dikwels van innerlike vreugde ge­tuig het.

Sidebar