CLAUDIUS (TIBERIUS CLAUDIUS DRUSUS NERO GERMANICUS)

CLAUDIUS (TIBERIUS CLAUDIUS DRUSUS NERO GERMANICUS) (10 vC–54 nC), was van 41 tot 54 nC Romeinse keiser*. Deur ’n reeks toevalle word hy ná die moord op die grootheidswaansinnige en praalsugtige Kaligula in 41 nC keiser. As kind was een van sy speelmaats Herodes*2 Agrippa I (9 vC–44 nC, vgl Hand 12:1-25), wat hom by die regeringsoorname as raadgewer bystaan en help om die weerstand van die senaat teen Claudius te breek. Claudius verleen Agrippa die mag oor Judea* en Samaria*, onder wie se rege­ring die Christene* vervolg en Jakobus* te­reg­gestel is (44 nC, vgl Hand 12:2). Ty­dens die regeringstyd van Claudius tel die verbreiding van die vroeë Christendom* in die Romeinse Ryk* momentum op, veral in Klein-Asië* en Rome* (vgl Hand 13–19). Beduidend was in hierdie opsig ’n edik van Claudius: in 49 nC het hy Jode* as gevolg van oproer in hulle geledere weens ’n sekere Chrestus (Christus*?, volgens die Romeinse skrywer Suetonius) uit Rome verban – gevolglik verhuis die Joodse Chris­tene* Priscilla* en Akwila* na Korinte* waar hulle medewerkers van Paulus* word (Hand 18:1-3, vgl Rom 16:3). Claudius word ook in Hand 11:27-28 genoem.

Vir verdere lees: A Momigliano 1961. Claudius: The Emperor and his Achieve­ment. Cambridge: Heffer.

Sidebar