CLAYTON, GEOFFREY HARE

CLAYTON, GEOFFREY HARE (1884–1957) is in Leicester, Engeland, gebore. In 1934 is hy verkies tot Anglikaanse* biskop* van Johannesburg. Hy het ’n sterk missionêre roepingsbesef gehad en baie gedoen vir die opheffing van en sending* onder die swart gemeenskap. Alan Paton* skryf in Life and Times of Geoffrey Clayton dat Clayton se intreerede as aartsbiskop van Kaapstad (1949) een van die mees besondere redes is wat ooit in die St George-katedraal gelewer is. Clayton se standpunt was dat dit die kerk* se roeping is om uit te reik na minderbevoorregtes. Clayton het be­kend geword as ’n “politieke biskop”, aangesien hy as aartsbiskop van Kaapstad, ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party, die nasionale eksponent geword het van Christelike etiek* in die politiek soos verstaan deur die Anglikane en ander, veral Engelse, kerke. In sy rede “Christianity and race” stel hy dit onomwonde dat die Christendom* nooit baie in rasseverskille as sodanig belang gestel het nie. Die onderskeiding tussen “Jood*” en “heiden*” was religieus eerder as rasgedrewe, en dié tussen “Griek” en “barbaar” kultureel eer­der as vanweë rasverskille. Ras is vir Clay­ton deel van God se skepping* en goed en volgens sy wil, maar rassisme* is vir hom van die duiwel*.

Vir verdere lees: Alan Paton 1973. Apartheid and the Archbishop: The Life and Times of Geoffrey Clayton Archbishop of Cape Town. Kaapstad: David Philip.

 

Sidebar