CLINEBELL, HOWARD JOHN jr

CLINEBELL, HOWARD JOHN jr (1922–2005) gradueer in 1944 aan die DePauw-universiteit en ontvang daarna ’n BD (1947) van Garrett Theological Seminary. In 1954 behaal hy ’n PhD aan die Uni­versiteit van Columbia. Hy was Metodiste­*-predikant wat in verskeie gemeentes ge­werk het voordat hy in 1959 ’n aanstelling kry in die Fakulteit Teologie by die Univer­siteit van Claremont in Kalifornië, waar hy tot met sy aftrede doseer. Hy skryf meer as twintig boeke in sy veld, sommige saam met sy vrou Charlotte. Hy was die eerste president van die American Association of Pastoral Counselors, stigter van die Institute for Religion and Wholeness en mededirekteur van die Pastoral Counseling and Training Centre, nou die Clinebell Institute. Hy het ook ’n leidende aandeel gehad in die stigting van die steeds groeiende In­ternational Society for Intercultural Pasto­ral Care and Counselling.

Clinebell het met die publikasie van sy boek Basic Types of Pastoral Counseling (1966) ’n nuwe era in die pastoraat in Ame­rika ingelei. Terwyl die pastoraat in die VSA tot in daardie stadium sterk onder die invloed van Carl Rogers se non-direktiewe, kliëntgesentreerde benadering was, wyk Clinebell daar­­van af deur ’n eklektiese benadering voor te staan. Hy bied ’n gereedskapkis vir pastors aan waaruit hulle ’n benadering kan kies wat die beste by ’n bepaalde pro­bleem pas. Die benaderings is meesal ont­leen aan sekulêre terapieë en diepgaande teologiese* besinning ontbreek daaroor. Hy propageer ’n holistiese groeimodel waarin die relasionele aspek sentraal staan.

Vir verdere lees: HJ Clinebell 1966. Basic Types of Pastoral Counseling: New Resour­ces for Ministering to the Troubled. Nash­ville: Abingdon; HJ Clinebell 1979. Growth Counseling: Hope-centered Me­thods of Actualizing Human Wholeness. Nashville: Abingdon.

Sidebar