CLOETE, MICHIEL DANIËL VICTOR (DOOMPIE)

CLOETE, MICHIEL DANIËL VICTOR (DOOMPIE) (1913–1992) was waarskynlik die mees gedekoreerde offisier wat die Suid-Afrikaanse Weermag en die Polisie nog gehad het. Cloete het in sy dienstermyn in die Weermag onder meer die Medalje vir Troue Diens en die Suiderkruisdekorasie ontvang, asook die Militêre Kruis vir Dapperheid, die Italië-Ster, die Afrika-Ster, die 1939-’45-Ster, die Britse Verdedigings­medalje, die Britse Oorlogsmedalje en die Afrika-Diensmedalje. Die Ulchi-dekorasie van die Republiek van Korea en die Ameri­kaanse Brons Ster-dekorasie is aan hom toegeken. Daarbenewens het hy die Vere­nigde Nasies se Diensmedalje en die Korea War Service Medal, die Polisiester vir Voor­treflike Diens en die Polisiester vir Ver­dienste ontvang. Hy was die eerste man wat die Polisiemedalje vir die Bekamping van Terrorisme ontvang het.

Reeds in die Tweede Wêreldoorlog* was “Doompie”, soos hy bekend geword het, ’n legende. In 1940 het hy kapelaan van die NG Kerk* geword. Hy het al die belangrike veldslae saam met die Suid-Afrikaanse troepe in Noord-Afrika, Italië en Suid-Europa meegemaak. In die Koreaanse oorlog was hy altyd by as Suid-Afrikaanse vlieëniers opge­styg het. Baie het ’n oomblik met geboë hoof by die vliegtuig saam met hom ge­staan terwyl hy ’n kort gebed gedoen het voordat op ’n lewensgevaarlike vlug vertrek is. Vir sommige was dit die laaste gebed en die laaste opstyging. Vir gespanne en moeë vlieëniers was dit ’n riem onder die hart om die eensame figuur op die aanloopbaan te sien wat hulle inwag as hulle neer­stryk.

In 1960 het hy kapelaan-generaal van die Polisie geword.

Vir verdere lees: Die Burger, 31 Desem­ber 1992.

Sidebar