CLOETE, THEUNIS THEODORUS

CLOETE, THEUNIS THEODORUS (1924–2015) is digter, kortverhaalskrywer, letterkundige en psalmomdigter. Vir sy voortref­like omdigting van die Psalms vir die Afrikaanse Liedboek van die kerk (NGKU, 2001), het hy die Andrew Murrayprys* in 2002 verwerf. Die Hertzogprys (twee keer) en etlike ander pryse is ook aan hom vir sy bellettrie toegeken. Cloete was jare lank bekend as skerpsinnige literêre kritikus, en het eers in ’n later stadium van sy lewe gedigte begin publiseer.

Met sy debuutbundel Angelliera het hy ’n sintaksis wat ’n handelsmerk van sy werk geword het, ingelei. Sy spel met die tipografie van die gedig in plaas van ’n veelheid van leestekens, was verfrissend. Sy poësie steun dikwels op religieuse temas en dra verwysings na bepaalde Bybel*gedeeltes. Dit beteken egter nie dat al sy digkuns sterk teologiese* of godsdienstige* motiewe vertoon nie. Inherent is sy poësie egter reli­gieus, maar sekerlik nie in die pedantiese sin van die woord nie. Satire is gereeld die wagwoord by die lees en interpretasie van Cloete se verse. In daardie sin is sy digkuns dan wel lerend.

’n Tema waaraan hy heelwat aandag gee, is dié van verganklikheid, en daarnaas is ook heelwat erotiese gedigte, stellig omdat min dinge die verganklikheid so sterk be­klemtoon soos die erotiek en die tydelike drif. Een van Cloete se bekendste erotiese verse is die gedig “Marilyn Monroe foto in blou”.

Telkens herken hierdie digter God in sy natuur en in sy skepping*. Dié kenmerk van sy digkuns vind dan ook neerslag in sy verruklike beryming van die natuurpsalms. Sy berymings lê dikwels die fynste verban­de tussen natuur en mens en tussen natuur en God. Heelwat Psalms sou, as die leser onbewus was van die bronteks, as Cloete se eie bellettrie gelees kan word. In sy ouderdom publiseer Cloete in 2014 nog ’n digbundel, Karnaval en Lent, waarvan gevra is: “Is daar in die wye wêreld nog ’n digter wat op 90 só ’n bundel kan publiseer?” (Kerkbode, 4 April 2014). ’n Bietjie meer as ’n jaar later is Cloete op 29 Julie 2015 oorlede.

 

Sidebar