COERTSE, MARIA SOPHIA (MIMI)

COERTSE, MARIA SOPHIA (MIMI) (1932–) is in Durban gebore en het in Johannesburg en Wenen studeer. In 1957 word sy lid van die Weense Staatsopera en was op dié operahuis se rooster tot 1978. Een van haar bekendste optredes was as sopraan in Bach* se Matthäus-Passion met Fritz Wunderlich as tenoor en Julius Patzak as die Evangelis (1958). Ook in 1958 het sy met Wunderlich saam gewerk tydens die Aix-en-Provence-fees se opvoering van Die Zauberflöte (Mozart). Coertse se repertoire sluit in Gilda in Rigoletto (Verdi), Martha in Martha (Von Flotow), Bastienne in Bastien und Bastienne (Mozart), Lucia in Lucia di Lammermoor (Donizetti) en Norma in Norma (Bellini). Sy het in die groot operahuise dwarsoor Europa opgetree saam met dirigente soos Herbert von Karajan, Dimitri Mitropoulus, John Pritchard en Sir Malcolm Sargent.

Coertse het in die 1970’s na Suid-Afrika teruggekeer en daarna dikwels hier in produksies opgetree en op radio en televisie uitgesaai. Sy het Suid-Afrikaanse musici op verskillende maniere ondersteun, jong san­g­ers gehelp om die gaping tussen opleiding en professionele uitvoering te oorbrug, en ’n projek vir sangers van alle bevolkingsgroepe aan die gang gesit. Sy het ook hard gewerk om die verwaarloosde Lieder-kuns onder die aandag van jong Suid-Afrikaanse sangers te bring.

Coertse is in 2004 aangewys as een van die “Top 100 Great South Africans”. Sy het meermale by groot kerklike byeenkomste opgetree – onder meer in die Groote Kerk, Kaapstad – en nooit ’n geheim van haar geloof* gemaak nie.

Vir verdere lees: http://en.wikipedia.org/ wiki/Mimi_Coertse

Sidebar