COERTZEN, PIETER

COERTZEN, PIETER (1943–). Coertzen behaal BA en MA aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en ontvang sy verdere teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy behaal sy DTh in 1976. In 1977 word hy dosent in ekklesiologie* aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch. Hy dien ook ’n termyn as dekaan, en is later benoem as buitengewone hoogleraar aan die universiteite van Stel­len­bosch en Leu­­ven, België. Hy dien as ak­tua­rius* van die Alge­mene Si­no­de van die NG Kerk* (1994–2004) en die sinode* van Wes-en-Suid-Kaap­land (1991–1999). Coertzen het hom deurgaans beywer vir die be­oefening van kerkregering op ’n teologies-verantwoorde wyse, maar hy en sy tydgenote kon nog nie ’n pad deur die kerk- en gemeenregtelike bos gekap kry om die hereniging van die NG Kerkfamilie* moontlik te maak nie. Hy het ’n groot bydrae gelewer in die vestiging van die praktyk van tentmakerleraars en diensverhoudings in die kerk in ’n nuwe staatsbestel. Sy navorsing oor die rol van die Hugenote* in Suid-Afrika is omvattend en geniet wye erkenning. Ná sy aftrede was hy verantwoordelik vir die totstandkoming van die Eenheid vir die Studie van Godsdiens en Reg, Teologiese Fakulteit, Stellenbosch, en het hy baie aandag gegee aan die implikasies van godsdiensvryheid wat deur die Grondwet van Suid-Afrika gewaarborg word.

 

Sidebar