COLENSO, JOHN WILLIAM

COLENSO, JOHN WILLIAM (1814–1883) se worsteling in die tweede helfte van die 19de eeu met bepaalde aspekte van kritiese teologie*, soos die outeurskap van die Pentateug*, kan as ’n belangrike moment in die teologiese groei en ontwikkeling in Suid-Afrika beskou word. Colenso is as wiskundige in Engeland opgelei. Hierna het hy na Suid-Afrika gekom waar hy in die Anglikaanse Kerk* gewerk het. Hy het spoedig in konflik met baie van sy mede-Anglikane oor ’n verskeidenheid van kwes­sies soos Skrifinterpretasie (Kyk by: Skrifuitleg) en kerkre­ge­ring gekom. Hy het ’n aandeel gehad in die skeuring van die Anglikaanse Kerk* met die totstandkoming van die (Suid-Afrikaanse) Church of Eng­land*.

In 1854 het hy ’n besoek van tien dae aan Natal gebring. Gedurende die volgende jaar het hy hom as biskop* in Natal gevestig. Hy gebruik die volgende vyf jaar om ’n Zoeloe-grammatikaboek en -woordeboek op te stel. Hy vertaal ook die hele Nuwe Testament* en ’n aantal boeke van die Ou Testament* in Zoeloe.

Colenso was simpatiek ingestel teenoor die belange en kultuur van swartmense – onder andere poligame* huwelike – en dit het heelwat vyandskap vir hom op die hals gehaal, onder andere dié van Theophilus Shepstone, maar tog ook waardering vir hom as persoon ingewin. Hy het mPanda, die Zoeloekoning, besoek, en in 1878 Cetschwayo teen die beskuldigings van sir Bartle Fere verdedig. Uiteindelik het Colen­so as ’n tragiese figuur gesterf. (Kyk ook by: Zoeloes en die Christelike geloof.)

 

Sidebar