COLGATE, WILLIAM

COLGATE, WILLIAM (1783–1857) is in Kent, Engeland, gebore. Vanweë sy pa se simpatie met die Amerikaanse kolonies en die Franse rewolusioniste, moes hy uitwyk, en het die gesin in 1798 na Amerika verhuis. Toe William sestien jaar oud was, moes hy uitspring en gaan werk omdat sy pa nie langer vir hom kon sorg nie. Maar niemand wou aan die maer seun met sy flenterklere en bleek gesig werk gee nie. By ’n seepfa­briek het hy agterom gestap, op sy knieë geval en die Here* belowe om Hom sy hele lewe lank te dien en ’n tiende van sy inkomste te gee as hy maar net werk sou kry. By daardie fabriek het die bestuurder hom in diens geneem as vloereskropper. Omdat hy sy werk so goed gedoen het, is hy later bevorder. Uiteindelik het hy met sy toewyding en harde werk ’n aandeelhouer in die besigheid geword – en in 1806, met die afsterwe van die eienaar, die alleen-eienaar daarvan. Dit was die begin van Colgate & Co, tot vandag toe een van die bekende seep-handelsmerke in die wêreld. Later in sy lewe het Colgate tot helfte van sy inkomste vir die werk van die Here gegee.

Alhoewel sy ouers Baptiste* was, was hy lank lidmaat van die Presbiteriaanse* Kerk, maar het later weer by die Baptistekerk aangesluit. Colgate het grotendeels betaal vir die bou van die Tabernakel in Oliver­straat, New York. Hy het ook die meeste van die uitgawes van die Madison-universiteit en -teologiese seminarium gedra. Omdat die Britse en Buitelandse Bybelge­noot­skap* geweier het om Bybelvertalings vir die Baptiste-sendelinge te druk, het hy een van die grondleggers van die Ameri­kaanse Bybelgenootskap geword en het as die eerste tesourier daarvan gedien.

Sidebar