COLYN, CHRISTOFFEL

COLYN, CHRISTOFFEL (1930–2007) is in 1955 op Stellenbosch as predikant* gelegitimeer, en was daarna Kuilsrvier en Napierville se predikant voordat hy in 1962 kapelaan van die SA Polisie in Pinetown geword het. In 1969 is hy na Pietermaritz­burg-Suid, in 1974 na Pretoria-Polisiekollege en vanaf 1975 tot met sy aftrede in 1990 was hy kapelaan-generaal van die Suid-Afri­kaanse Polisie. Colyn het in die Natalse en Noord-Transvaalse moderature van die NG Kerk* gedien en het met sterk en behou­dende standpunte hoë aansien geniet. Hy was daarvan oortuig dat Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s die fokuspunt van ’n kom­munistiese* poging tot magsuitbreiding en wêreldoorheersing was. Hy het hom heelhartig vereenselwig met die optrede van die SA Polisie in daardie tyd, en het later gesê dat hy groot waardering het vir wat die Kapelaansdiens destyds gedoen het “om vir polisiemanne die stryd in geestelike perspektief te plaas en die evangelie* aan hulle oor te dra”. Colyn wys daarop dat gewaak moet word teen die veroordeling van die ganse destydse polisiemag as net indiwiduele lede hulle perke oorskry het. Hy het beklemtoon dat, indien hy as kapelaan-generaal ingelig was oor ongeoorloofde optredes deur die polisie, “soos nou beweer word”, hy nie sou geskroom het om sy Christelike getuienis te lewer nie.

Vir verdere lees: “Die NG Kerk en die Veiligheidsmagte” in: Algemene Sinodale Kommissie 1997. Die Verhaal van die NG Kerk se Reis met Apartheid. Wellington: Hu­ge­note-Uitgewers.

Sidebar