CONFUSIANISME

CONFUSIANISME. Die stigter van Con­fu­sianisme, K’ung-fu-tzu of Confusius, is in 551 vC in China gebore en sterf in 479 vC. Komende uit die sg Ju-skool het hy in ’n chaotiese, onsekere tyd wat gekenmerk is deur korrupsie, ’n groep studente rondom hom vergader om die morele, sosiale en politieke probleme van sy dag te debatteer. Hy en sy volgelinge leer die be­langrikheid van Li, wat dui op goeie ma­niere, gepastheid en geordendheid, wat Con­fusius met die ideaal van die “ware heer” verbind het. Hy het hom ook besig gehou met filiale piëteit wat handel oor die ge­hoorsaamheid van kinders aan hulle ouers. Dit sou uiteindelik lei tot vorme van voorvaderaanbidding*.

Die Chinese term vir Confusianisme, Ju (geleerdes, geletterdes) dui op die aard daarvan as “intelektuele kultuur”. Dit word gewoonlik beskou as filosofie (chia), maar sommige Confusiaanse terme verwys na aanbidding, ritueel en offer. Confusianisme is veral bekend vir sy morele filosofie, soos verteenwoordig deur Confusius self. Dit is gegrond in die oorgeërfde religie van die “Hoogste Heer” of “Hemel”. Volgens die Chung-yung, een van die “Vier Boeke” van die Confusianisme, word die wysgeer, nadat hy ware integriteit (ch’eng) ontdek het, één met die “Hemel” en die “Aarde”. Confusianisme beklemtoon die etiese betekenis van menslike verhoudings – soos verpersoonlik deur Confusius self. Die basis van sy leer was die begrip van menslikheid (jen). Waar die meeste van Confusius se leerstellings die etiese dimensie van menslikheid beklemtoon, het hy dit duidelik gemaak dat dit die “Hemel” self is wat hom beskerm en aan hom sy boodskap gegee het: “Hemel is die skrywer van die deug wat in my is”.

Die Confusiaanse klassieke werke beskryf geestelike ontwikkeling as emosionele harmonie en psigiese ekwilibrium – ’n harmonie van verhoudings eerder as die afwesigheid van drange. Hierdie harmonie bring ’n mens in aanraking met die kosmiese ontwikkeling van lewe en skepping.

Confusianisme se grondleggers is drie mense: Confusius, Mensius en Hsün-tzu. Terwyl Confusius Confusianisme begin het met die eis dat ons ’n lewe van jen of volmaakte menslikheid moet lei, en Mensius die begrip van jen uitbrei om aan te toon dat dit ’n lewe van grenslose vreugde impliseer, is Hsün-tzu die praktiese wysgeer. Hy wys op die krag van rituele aksie wat nodig is om die menslike hart, wat geneig is om te fouteer, te verander in die gees van ’n ware wysgeer. Hy het dit oor ’n rituele lewe gekenmerk deur nederigheid en goeie optrede.

Mettertyd het die betekenis van die word “Hemel” in die Confusianisme meerduidig geword, verwysende na ’n oppergodheid (die Analekte van Confusius), ook na morele krag, ook na die heelal self.

Vir verdere lees: R Pearce Beaver ea (reds) 1989. Godsdienste van die wêreld. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.

AL Compaan

Sidebar