CONRADIE, ERNST MARAIS

CONRADIE, ERNST MARAIS (1962–) het in 1992 aan die Universiteit van Stellenbosch gepromoveer met ’n proefskrif getiteld Teologie en pluralisme: ’n Kritiese analise van David Tracy se voorstel van ’n analogiese verbeelding. Hy doseer sedert 1993 sistematiese teologie en etiek aan die Universiteit van die Wes-Kaap, en was in 2007 onder meer uitvoerende sekretaris van die Network of Earthkeeping Christian Communities in South Africa (NECCSA). Hy skryf gesaghebbend oor die ekologiese* teologie* in Rus vir die hele aarde (1996), Hope for the Earth – Vistas on a New Century (2000), Christianity and Ecological Theology: Resources for Research (2006) en Waar op dees aarde vind mens God? (2006). Laasgenoemde boek is in 2007 met die Andrew Murrayprys* bekroon en die be­oordelaars het onder meer verklaar: “Ons het hier werklik met ’n eerste in Afrikaans* te doen. Hierdie boek verleen op sy minste teologiese onderbou aan die ekologiese diskussie wat vandag wêreldwyd aan die orde van die dag is. Dit plaas die ekologiese debat op die vlak van Christelike spiritualiteit; dit laat ’n mens met nuwe oë kyk na hoe ons die verhouding met God, naaste en wêreld op ’n intens geestelike manier kan en moet beleef”. In 2013 het hy ’n tweede keer die Andrew Murrayprys gewen, dié keer vir sy boek Lewend en kragtig? In gesprek oor God se handelinge in die wêreld. Conradie is ook ’n mede­werker van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE).

 

Sidebar