COTTESLOE-BERAAD

COTTESLOE-BERAAD kan in baie op­sigte as een van die belangrike keerpunte in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis van die 20ste eeu beskou word. Dit het in Desember 1960 by die Cottesloe-koshuis van die Witwatersrandse Universiteit plaasgevind. Die Cottesloe-beraad, wat deur die Wêreldraad van Kerke* (WRK) in same­werking met sy lidkerke in Suid-Afrika georganiseer is, was ’n regstreekse gevolg van die eerste ernstige tekens van swart weerstand by Sharpeville en Langa teen die apartheidsbeleid* soos deur die Nasionale Party-regering van die tyd toegepas. Toe die Cottesloe-beraad einde 1960 plaasgevind het, was die NG Kerk* van Transvaal en dié van die Kaap asook die Nederduitsch Hervormde Kerk* van Afrika lidkerke van die WRK en kon daarom ook afgevaar­dig­des na die beraad stuur. Aan die einde van die beraad is ’n verklaring as die bevinding van die vergadering uitgereik. Oor die stem­prosedure wat gevolg is om tot hierdie verklaring te kom, was daar ná die tyd groot meningsverskil – soos ook oor die besluite self. Van die belangrikste besluite was die volgende: 1. Getuienis van die kerk: “In ’n tyd van snelle maatskaplike verande­ring het die kerk ’n besondere verantwoor­delikheid om vreesloos binne die maat­skap­­py te getuig.” 2. Gemengde huwelike: “Daar is geen Skriftuurlike gronde vir ’n verbod op gemengde huwelike (= huwelike tussen persone van verskillende rasse) nie …” 3. Werkreservering: “Die huidige stelsel van werkreservering moet plek maak vir ’n billiker werkstelsel …” 4. Grondbesit en mede­seggenskap: “Dit is ons oortuiging dat die reg om grond te besit waar hy ook al gedomisilieer is en om deel te hê aan die regering van sy land, deel is van die waardigheid van die volwasse mens, en om hierdie rede kan ’n beleid wat aan nie-blankes permanent die reg tot medeseg­gen­skap in die regering van die land waarvan hulle burgers is, ontsê, nie geregverdig word nie.” 5. Politieke status van Kleurlinge: “Dit is ons oortuiging dat daar in beginsel geen beswaar kan wees teen die direkte verteenwoordiging van die Kleurlingbe­vol­king in die parlement nie …”

Die Cottesloe-verklaring het ’n groot storm in Afrikaner*geledere laat losbars. Dit was veral kerkleiers soos dr AP Treurnicht* en dr JD Vorster* wat sterk teen die beraad se besluite stelling ingeneem het. Die destydse eerste minister, dr HF Verwoerd*, het self tot die debat toegetree en daarop gewys dat die verklaring niks meer is nie as die mening van ’n aantal enkelinge uit die NG Kerk, en dat die kerk in werklikheid nog nie gepraat het nie – dit sal eers gebeur as die sinodes hulle stem laat hoor. In die daaropvolgende jaar het al die sinodes van die NG Kerk hulle van die Cottesloe-besluite gedistansieer en die NG Kerke van Transvaal en die Kaap, sowel as die NH Kerk, het uit die WRK getree.

Dit sou, ten spyte van talle ander ge­sprek­ke, eers dertig jaar later met die Rus­ten­burgberaad* van 1990 wees dat baie van die kwessies van Cottesloe weer deur die kerke van Suid-Afrika, die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika* ingesluit, gesamentlik in breër verband hanteer sou word.

Vir verdere lees: AH Lückhoff 1978. Cottesloe. Kaapstad: Tafelberg. FM Gaum (vir die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk) 1997. Die Verhaal van die Ned Geref Kerk se Reis met Apartheid. Welling­ton: Hugenote.

Sidebar