CRANMER, THOMAS

CRANMER, THOMAS (1489–1556) was teen 1520 verbonde aan die Jesus College in Cambridge en ’n priester*2. Hy was ten gunste van ’n oop benadering tot Skrifgesag* en ’n beleid wat geestelikes se rykdom en voorregte sou inperk. Cranmer het in 1529 koning Henry* VIII se guns gewen deur te verklaar dat die koning se egskeiding* van Katerina van Aragon ’n teologiese eerder as ’n regskwessie is, wat tot die nietigverkla­ring van hulle huwelik* gelei het. Henry het Cranmer Anne Boleyn se kapelaan gemaak en hom in 1533 as aartsbiskop* van Kantel­berg aangestel. Cranmer se grootste by­drae was op die gebied van die liturgie*. Al­hoe­wel hy die leer van transsub­stan­siasie* verwerp het, het hy bevestig dat Chris­tus* werklik teenwoordig is in die sakrament* van die nagmaal*. Hy was ook verantwoor­delik vir die Engelse Prayer Book van 1549 (konserwatief, maar in pragtige taal) en dié van 1552 (radikaal, logies en oorspronklik), sowel as vir die Twee en Veertig Artikels – wat later die Nege en Dertig Artikels (Kyk by: Thirty Nine Articles) geword het – wat die basis van die leer van die Kerk van Engeland* sou word. Tydens die bewind van Mary Tudor* is hy van kettery* aan­gekla. Hy het dit eers afgesweer, maar by sy teregstelling het hy weer sy Prote­stantse* geloof verkon­dig.

 

Sidebar