CREW, WILLIAM FRED (WILLIE)

CREW, WILLIAM FRED (WILLIE) (1952–), kleinseun van ’n Baptiste*-predikant, word in ’n Christelike milieu groot, maar wend hom eers ná 11 jaar as sakeman tot die bediening. Hy studeer teologie* aan die Hatfield Christian Church in Pretoria waar hy van 1983 tot 1989 as pastoor met opdrag kerkplanting* werk. In 1989 stig hy die World Mission Centre in Pretoria om kerke te mobiliseer vir wêreldevangelisasie (Kyk by: Evangelisasie). Saam met sending*organisasies word ’n reeks Love Southern Africa-konferensies (LSA) gehou, met die uitvloeisel dat verskillende kerke hulle sendingwerk in dieselfde teikenlande begin koördineer. In 1997 bied die World Mission Centre die Global Consultation on World Evangelisation aan wat deur 4 000 mense van 135 lande bygewoon is. Crew se sentrum het honderd “onbereikte” volke in Afrika suid van die ewenaar geïdentifiseer, en ’n strategie beraam om te verseker dat 99 van hulle teen 2006 die evangelie sou gehoor het. Hy ontwikkel ook die Live School, ’n teologiese kursus vir kerkleiers wat op DVD opgeneem is en saam met terugspeelapparaat in ’n tas verpak is sodat teologiese opleiding vir leiers in afgeleë gebiede met sonkrag beskikbaar gestel kan word. In Pretoria is Crew die dryfveer vir die stigting van Transforming Tshwane wat verskillende kerke saamsnoer om die stad op terreine wat wissel van gesondheid, on­der­wys en ontspanning tot die sake­wêreld te transformeer.

Sidebar