CROMWELL, OLIVER

CROMWELL, OLIVER (1599–1658) kom uit ’n gegoede familie en ontvang ’n deeglike skoolopleiding. In 1628 word hy parlementslid en van 1640 af verteenwoordig hy Cambridge. As Vrye of Independente Calvinis* veg hy teen die “Goddelike reg” van die koning, sowel as teen staatsdwang in die kerk, hetsy episkopaal* of presbiteriaal* van aard. Gedurende die burgeroorlog bring hy die “New Model Army”, ’n professionele weermag, tot stand. Toe hervor­mings, ná die teregstelling van Charles I, te stadig vorder, gebruik hy die weermag om die parlement te sluit, en word hy regent, of “Protector” (1653).

As staatsleier gee hy vryheid aan alle kerkgenootskape, selfs Anabaptiste* en Jo­de*, maar nie aan Katolieke* nie, wat ver­dink word van steun aan Spanje. Die Skotse Presbiteriane kon sy wye verdraagsaamheid nie begryp nie, en hy nie hulle lojaliteit teenoor die Huis van Stuart nie. In Ierland het hy met geweld gereageer ná ’n massamoord op Protestante* (1641), maar het daarna verreikende hervormings ingestel. Sy sterk geloof in gewetensvryheid is later oorskadu deur sy geloof in sy roeping as hervormer. Sy buitelandse beleid was suksesvol, maar, om verskeie redes, het die mense begin terugverlang na die ou orde. Eers in 1690 is sekere beginsels waarvoor hy geveg het, aanvaar.

Vir verdere lees: Horton Davies 1963. The English Free Churches. Londen: Oxford University Press. CV Wedgwood 1960. Oliver Cromwell. Londen: Corgi.

 

Sidebar