CROMWELL, THOMAS

CROMWELL, THOMAS (circa 1485–1540) was onderleg in die reg, die handel en die sakewêreld. Hierdie bekwame politikus met sterk menings oor binnelandse en buitelandse beleid het in 1523 Britse parlementslid geword. Cromwell het ’n be­skerm­ling van kardinaal* Wolsey geword, maar ná hierdie beskermheer tot ’n val gekom het, het hy al meer toenadering tot Henry* VIII gesoek. Uiteindelik het dié hom as hoofsekretaris en visevors aangestel, en vanaf 1533 was Cromwell die dryfkrag agter die administratiewe hervormings in Engeland. In die gees van Erasmus* het Cromwell, die ontwerper van Henry se statute in dié verband, teen 1534 bepaal dat die Kerk van Engeland (Kyk by: Anglikaans) onafhanklik van die Katolieke Kerk* maar wetlik onder­geskik aan die Engelse monarg is. Hy was ten gunste daarvan dat William Tyndale* na Engeland terugkeer ná sy teenkanting teen die koning se egskeiding van Katerina van Aragon. Onder invloed van Luther* se leerstellings het Cromwell aan die onderdrukking van die kloosters* deelgeneem. Hy het ook Coverdale se gesaghebbende Bybel­vertaling* in die spreektaal (1539) gesteun. Daarna het Cromwell se mag begin taan. Die konserwatiewes het teen hom saam­ge­sweer en hy is van kettery* en hoogverraad aangekla. Hy is skuldig bevind en in 1540 tereggestel.

Sidebar