CRONJÉ, JOHAN MARTHINUS (JO­HANNIE)

CRONJÉ, JOHAN MARTHINUS (JO­HANNIE) (1914–2006) is in die distrik Vredefort in die Vrystaat gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan aan die Greykollege in Bloemfontein voltooi het, is hy na die Sendinginstituut* op Wellington. Hier behaal hy sy diploma vir sendelinge* summa cum laude in 1936. Ná ’n eenjarige mediese kursus vir sendelinge in Londen, vertrek hy na Noord-Rhodesië (tans Zambië). Hier werk hy van 1937 af, later saam met sy vrou Marthie, as gemeente-sendeling en as eerste dosent vir die opleiding van inheemse leraars. Na verdere studie in Nederland, behaal hy in 1959 sy doktorsgraad. In 1960 moes hy die trope verlaat, maar word kampongsendeling aan die Verre-Wesrand. Vier jaar later is hy beroep as sendingsekretaris van die Vry­staatse NG Kerk*. In hierdie hoedanig­heid het hy die onafhanklikwording van die Zambiese kerk begelei. Van 1971 tot en met sy aftrede in 1979 het Cronjé gedien as sekretaris van die Algemene Sinode se sendingkommissie. Op 65-jarige ouderdom het hy ingestem om as direkteur van die nuutgestigte Instituut vir Sendingweten­skaplike Navorsing (ISWEN) aan die Uni­versiteit van Pretoria op te tree. Veral be­kend uit hierdie tyd, is sy geskiedenis van die buitelandse sending van die NG Kerk, gepubliseer as Aan God die dank, deel 2.

 

Sidebar