CRONJÉ, WESSEL JOHANNES (HAN­SIE)

CRONJÉ, WESSEL JOHANNES (HAN­SIE) (1969–2002) het in 1987 aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Hy was ’n gebore sportman en het die Vrystaat op skoolvlak in krieket sowel as rugby verteenwoordig. In 1991 maak hy sy debuut as toetskrieketspeler teen die Wes-Indiese Ei­lan­de, en in 1992 sy eendag-internasionale krieketdebuut teen Australië. Hy word kaptein van Suid-Afrika se toets- en eendag-krieketspanne en is weldra een van die gewildste kapteins ooit.

Cronjé staan bekend as uitgesproke Christen*, maar skok die sportwêreld in 2000 toe hy erken dat hy betrokke was by die grootste wedstrydknoeiery nóg in krieket. Cronjé het van sy spanmaats oorgehaal om die uitslae van wedstryde te bewimpel nadat hy omkoopgeld ontvang het vir sy aandeel daaraan. Nadat hy skuldig bevind is, is hy lewenslank as speler geskors en ook verbied om krieket af te rig. Hy het berou gehad vir sy optrede en in die openbaar sy skuld bely.

Op 1 Junie 2002 kry Cronjé, as enigste passasier aan boord, ’n geleentheid met ’n Hawker-vrag­vliegtuig na George. Naby George verloor die loods sy sig in digte mis en vlieg teen die Outeniqua­berge vas. Cronjé sterf saam met die twee vlieëniers in die ongeluk. ’n Geregtelike ondersoek het in 2006 bevind dat Cronjé se dood die gevolg van ’n vlieëniersfout was.

 

 

Sidebar