CROUS, FREDERIK REYNARD (FRED­DIE)

CROUS, FREDERIK REYNARD (FRED­DIE) (1906–1983) is in Riversdal gebore en wou van vroeg af predikant* word, maar omstandighede het dit verhinder. Hy word mettertyd bestuurder van die CSV-boekwinkel op Stellenbosch, en begin die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) op die dag dat die Tweede Wêreldoorlog* uitgebreek het, 6 September 1939, aan die Rand. CUM was van die begin af nie kerkgebonde nie, en het heelwat teenkan­ting uit veral NG Kerk*geledere gekry. Van die eerste boeke wat Crous uitgegee het, het oor die wederkoms* gehandel, en later is die Apostoliese Geloofsending (AGS)* se evangelieliedere ook deur hom uitgegee. ’n Hoogtepunt was die publikasie van Olivera Hildebrandt se Kinderbybel in die 1940’s. In die laat 1950’s stig Crous Pro Regno vir korttermynversekering, en die opbrengs is 100% gebruik vir “die Here se werk” – in ooreenstemming met Crous se lewensteks, “Soek eers die koninkryk van God …” (Matt 6:33). Crous was ’n stigterslid van die Bybelversprei­dings­organisasie die Gideons* in Suid-Afrika. Hy is in 1972 deur sy seun, Timo*, as besturende direkteur van CUM opgevolg, en het by sy dood nie ’n boedel gehad nie – wat hy gehad het, het hy gedurende sy lewe ingeploeg in wat hy as koninkryks­werk gesien het. Vir die uitgee van Christelike boeke in Suid-Afrika het Freddie Crous ’n bres geslaan.

Sidebar