CROUS, TIMOTHEUS (TIMO)

CROUS, TIMOTHEUS (TIMO) (1935–) verwerf BComm in 1964 aan die Witwaters­randse Universiteit, en sluit in 1953 by sy pa, Freddie Crous*, se Christelike Uitgewers­maat­skappy (CUM)* aan, waarvan hy in 1972 die besturende direkteur geword het. Hy was president van die Bybelversprei­dingsorganisasie die Gideons* in Suid-Afrika, en het in dié organisasie se internasionale raad gedien. Sy vrou, Maria (Meisie), het ook as die nasionale president van die Gideons opgetree. Crous was president van OMS* Internasionaal (SA), ’n sending*organi­sasie wat in 43 lande betrokke is. Hy is ’n lidmaat van die NG Kerk*, maar is daarvoor bekend dat hy hom met verskillende stromings in kerke – sowel “evangelies*” as “ekumenies*” – kan assosieer. Dit blyk uit die verskeidenheid Christelike boeke wat CUM in sy tyd uitgegee het, sy betrokkenheid by die Gideons, en ook uit die feit dat hy medeorganiseerder was van die jaarlikse toewydingsmaaltye in die vroeë 1990’s waar leiers van verskillende groeperinge sowel as kerkmense van verskeie denominasies kon handevat. Die Christen-diplomaat Timo Crous het ’n sleutelrol gespeel om Christian Forum tot stand te bring, ’n blad wat in die oorgangstyd in Suid-Afrika kwartaalliks aan sowat 10 000 menings­vormers gestuur is. Met dié blad is probeer om verdraagsaamheid en begrip tussen Christene te bevorder. “Ons moet nie van mekaar praat nie, maar met mekaar”, sê Crous. “Ek probeer altyd klem lê op daardie dinge waaroor ons saamstem.” Hy het in 1991 as voltydse amptenaar van CUM uitgetree en met Crous International (Edms) Bpk, eiendomsmakelaars, begin. Hy is ’n direkteur van verskeie Artikel 21-maatskappye, soos Stigting F en R Crous en Scheer­poort-kampterrein, en is ’n stigterbeheerraadslid van die Andrew Murray-prysfonds. In 2018 is ‘n spesiale Andrew Murray-toekenning aan hom gemaak vir sy buitengewone bydrae tot die Christelike media en die samelewing.

 

Sidebar