CROWTHER, SAMUEL AJAYI

CROWTHER, SAMUEL AJAYI (circa 1800–1891) is vroeg in die 1800’s in Yorubaland, Nigerië, gebore. In min of meer 1821 is hy deur ’n slawehandelaar aan die Portugese verkoop. Die skip wat die slawe Amerika toe moes neem, is deur die Britte voorgekeer en Crowther is vrygelaat. Hy is na Freetown in Sierra Leone gestuur waar hy deur die Anglikaanse* Church Missionary Society opgevoed is. Hy is in 1825 gedoop en ná ’n kort rukkie in Enge­land is hy weer Afrika* toe waar hy sy opleiding as onderwyser by die Fourah Bay-kollege ontvang het. Hy was die eerste student wat by dié kollege ingeskryf het toe dit in 1827 geopen is. In 1845 is hy terug Engeland toe waar hy georden is. Toe hy weer na Wes-Afrika teruggekeer het, het hy eers in Badagry gedien en toe in Abeokuta (1846). Hy het in 1854 en 1857 reistogte langs die Nigerrivier onderneem. Gedurende dié tyd het hy ook as eerwaarde gewerk. Hy is in 1864 biskop* gemaak, die eerste swart Anglikaanse biskop in Afrika. Tydens die 1880’s is sy werkwyse skerp deur jong wit sendelinge* gekritiseer. Hulle het ook oor sy inheemse leraars gekla. In 1890 het hy bedank.

Sidebar