CULLMAN, OSCAR
CULLMAN, OSCAR (1902–1999) is in Straatsburg gebore, het aan die universiteite van Parys en Straatsburg gestudeer en in 1930 professor in Straatsburg geword. Van 1938 tot 1972 was hy aan die Universiteit van Basel verbonde met die leerstoel in Ou Testament*. Hier het hy met Karl Barth* kontak gemaak. Hy het gehelp dat hierdie Switserse stad ’n sentrum vir ekumeniese* teologie* geword het. Cullman het veral in 1946 na vore getree met die publikasie van sy boek, Christ and Time, waarin hy die eenheid van die Ou en die Nuwe* Testament, wat sy kulminasie in Christus* vind, bepleit het.
In die 1920’s en 1930’s het Cullman kontak met Ortodokse en Katolieke* teoloë aangemoedig – lank voordat Protestantse* teoloë dit oorweeg het. Sy ekumeniese belangstelling blyk onder meer uit sy studie oor die posisie van Petrus* in die Vroeë Kerk*. Cullman was op uitnodiging van pous Johannes XXIII* ’n amptelike waarnemer by die Tweede Vatikaanse Konsilie* en het saam met ander nie-Katolieke waarnemers by pous Paulus VI aanbeveel dat ’n internasionale en interkulturele sentrum geskep word waar Christen-geleerdes van oor die spektrum saam gebed, studie en dialoog kan beoefen. Dit het in 1965 tot die Tantur-Ekumeniese Instituut in Jerusalem gelei. Cullman het die eerste Protestant geword wat die Internasionale Prix-toekenning van die Paulus VI-Instituut van pous Paulus VI ontvang het. Hy is ook deur die Franse president met die Legioen van Eer-toekenning vereer.