CUSSONS, SHEILA

CUSSONS, SHEILA (1922–2004) is gebo­re op Piketberg, opgelei as beeldende kuns­tenaar en het verskeie suksesvolle solo- en re­trospektiewe uitstallings in Suid-Afrika ge­had. Sy vestig haar in Barcelona (1956–1980) en daarna in Kaapstad. Sy tree veral as Katolieke* dig­ter op die voorgrond. Haar debuutbundel Plek­trum (1970) is oor ’n kwart­eeu geskryf. Kenmerkende eienskap­pe van haar digterskap is die geladenheid van die woord, gedrongenheid van die kompakte beeldspraak, verrassende oorspronklike sienings en kleurbewustheid. Sy het etlike digbundels met ’n sterk mistieke* inslag gepubliseer. Kontemplatiewe verse, dikwels met Bybelse* motiewe, beklemtoon die misterie van God. Haar verse ver­gestalt haar geloof* dat die mens deur die genade* magneties nader aan God getrek sal word om uiteindelik tot kenbaarheid te kom. Haar verlange is transfigurasie in God wat tot die daaglikse afsterwe van die self lei.

Haar werk is ’n verslag van haar innerlike reis na God toe, die verkenning van die avontuur om Chris­tus* te volg.

Cussons was die slagoffer van ’n ernstige brand­ongeluk in 1974 wat haar lewe ingrypend verander het. Haar bundel Die swart kombuis (1978) verwys im­pli­siet hierna en verteenwoordig in haar digkuns ’n be­paalde oorgang. Met die mo­tief van die suiwerende vuur en die siekte, wat die diepste mens­likheid blootlê, lewer Cus­sons haar besondere bydrae tot die religieuse literatuur. In “Christ of the burnt men” word die eie verwonding op ’n aangrypende manier beleef in ’n mistieke vereenselwiging met Christus se leed. Hierop volg “Verheerliking” waarin Christus magies-realisties verskyn as mens, maar terselfdertyd naatloos een is met sy heelal.

Cussons se verse bied begrip van die Middeleeuse Katolieke* sfeer – vertroulike omgang met die heiliges en die belewing van die Goddelike/goddelikheid in die alledaagse. ’n Belangrike bydrae is gedigte rondom die liturgiese* kalender van die kerkjaar*. Sy was ook verantwoordelik vir Afrikaanse vertalings van gebede vir die Katolieke Missaal.

Vir verdere lees: Sheila Cussons 2006. Versamelde Verse. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers. JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human en Rousseau.

Sidebar