DAAD-ETIEK

DAAD-ETIEK. In etiese gespreksvoering word daar soms ’n onderskeid tussen daad-etiek (“ethics of doing”) en synsetiek* (“ethics of being”) gemaak. Laasgenoemde word ook dikwels met deugde-etiek* in ver­band gebring. Die konsepte “dade” en “deugde*” word dan verteenwoordigend van twee moontlike benaderings tot die ver­staan van die etiek. Waar ’n synsetiek en deugde-etiek sterk fokus op die morele agent wat handel, val die klem volgens ’n daad-etiese beskouing sterker op die handelinge van die morele agent. Sentraal is dus die vraag: “Wat moet ek/ons doen?” Dit gaan hiervolgens veral oor reëls, beginsels en kriteria vir gedrag. ’n Daad-etiese be­nadering probeer dus om in die proses van morele oordeelsvorming klarigheid te gee sodat die morele agent in moeilike situasies reg kan kies en kan handel. Dit is meestal die onderliggende aanname van so ’n benadering dat dit moontlik is om rasio­nele, objektiewe en universeel-geldende beginsels te vind wat as uitgangspunt vir morele gedrag kan dien. Etici wys dikwels daarop dat die vraag “Wat moet ek/ons doen?” nie van die vraag “Wie is ek/ons?” geskei moet word nie. Teologies beskou, moet hierdie vrae ook nie van die vraag “Wat is God besig om te doen?” losgemaak word nie.

Sidebar