CHARISMATIESE SPIRITUALITEIT

CHARISMATIESE SPIRITUALITEIT. Die kwalifiserende byvoeglike naamwoord “charismaties” word gebruik vir ’n styl van aanbidding wat binne al die hoofstroom Christelike tradisies aangetref word. ’n Cha­ris­matiese spiritualiteit word gekenmerk deur ’n besondere klem op die werking en rol van die Heilige Gees* met die doop van die Heilige Gees* wat prominent funksio­neer asook die spreek in tale, ook bekend as glossolalie*. Die woord “charismaties” lê verder groot klem op die rol van ervaring in die geloofslewe, beide in die indiwiduele én openbare aspekte van geloof* en aanbidding. Laasgenoemde vind uitdrukking in ’n aanbiddingstyl wat gekenmerk word deur uitbundige sang, gewoonlik saam met ’n orkes, sanggroepe, liggaamlike deelname, koordanse en so meer. Dié spiritualiteit lê ook besondere klem op die gawes van die Gees* wat elke gelowige ontvang. Binne die aanbiddingsgebeure of samekoms word daarvoor ruimte gemaak. Charismatiese spiritualiteit verwerp dikwels die liturgiese* gebruike wat binne die hoofstroom Prote­stantse* en Katolieke* tradisies voor­kom. Informaliteit, openheid, spontane gebede en getuienisse, genesingsdienste en vele meer is ook deel van dié spiritualiteit. Sedert die middel van die 20ste eeu was daar heelwat steun vanuit die ekumeniese* beweging om hierdie sogenaamde “derde stroom” saam met die Protestantisme en Katolisisme deel van die wêreldkerk te maak. (Kyk ook: Spiritualiteitsmodelle.)

Vir verdere lees: PF Bradshaw 2002. “The Charismatic Movement” en “Charismatic Worship” in: The New SCM Dictionary of Liturgy and Worship. Londen: SCM Press.

 

Sidebar