DOKSOLOGIE

 

DOKSOLOGIE. Die woord doxa verwys in die Christelike woordeskat na die heerlikheid van God. In die liturgie* dui die woord doksologie op ’n manier waardeur God verheerlik kan word. Die doksologie is ’n lofprysing* wat meestal trinitaries* verwoord is. Hiermee is gebede, psalms en himnes afgesluit. In die liturgie is die Gloria in excelsis ook bekend as die Groot Gloria, Groot Doksologie of Hymnus Angelicus genoem. Die doksologie is as ’n oggendhimne gebruik. In die Liedboek van die kerk* is daar die bekende trinitariese doksologie (Lied 180):

Eer aan die Vader en die Seun

en die Heilige Gees,

soos dit was aan die begin,

toe en so ook nou

en van ewigheid tot ewigheid. Amen.

Verwant aan die doksologie is die bekende Trishagion uit die Ooste wat deur die gemeente gesing is: “Heilige God, heilige, sterke God, heilige, onsterflike God.” In die Liedboek kom daar ook talle ander doksologieë voor. ’n Voorbeeld hiervan is : “Heilig, heilig, heilig, heilig is die Heer” (Lied 171).

Die doksologie sluit aan by die lof aan die Naam van die Here in die vyf bundels in Psalms*. Elke psalmbundel word met ’n doksologie afgesluit: Ps 41:14; 72:18-19; 89:53; 106:48. Psalm 146–149 is ’n groep doksologiese psalms. Psalm 150 is een magtige doksologie wat die hele psalmboek afsluit en in die liturgie weerklank moet vind.

Vir verdere lees: Wainwright, G 1980. Doxology (Stad, uitgewer?? – Ian Nell)

 

Sidebar