DA GAMA, VASCO

DA GAMA, VASCO (circa 1460–1524) was die Portugese seekaptein en ontdekkings­reisiger wat die seeroete om die Kaap die Goeie Hoop tussen Wes-Europa en die Ooste oopgestel het. Sy reise blyk in hoofsaak kommersiële ondernemings en nie ontdekkingsreise as sodanig te wees nie. Hy het sodoende ’n nuwe era in die wêreldgeskiedenis ingelui deur grondslae te lê vir die vestiging van Europese handels­ryke en magsbasisse in die Ooste. Da Gama het op 8 Julie 1497 van Lissabon af op sy eerste reis vertrek. Sy opdraggewer, die Portugese koning Manuel I (wat van 1495 tot 1521 regeer het), het die doelstellings van prins Hendrik die Seevaarder* nagevolg. Dit was om die Moslems* se handelsmonopolie in die Ooste te verbreek deur die ontdekking van ’n seeroete na die Ooste en om Christen*-bondgenote te vind wat nie net die handel sou bevoordeel nie, maar ook sendingwerk* vergemaklik.

Op 7 November vaar Da Gama en sy geselskap Bahia da Santa Elena binne en bereik op 22 November die Kaap die Goeie Hoop. Op 25 November bereik hulle Agua­da de São Bras – Waterbron van Sint Blasius of die huidige Mosselbaai. Nadat hulle ’n houtkruis en ’n klip-padrão opgerig het, word die Pondolandkus op Kersdag bereik wat paslik Terra do Natal – na die Chris­tus*kind se geboortedag – genoem is. Op 2 Maart 1498 het Da Gama en sy geselskap aan die Mosambiekse kus aangedoen waar hulle van die legendariese priester-koning Jan – ’n moontlike bondgenoot – verneem wat in die binneland bly, maar glo verskeie hawestede beheer het. Uiteindelik haal hulle op 14 April Malindi (tans in Kenia). In ’n dagboek, gehou deur ’n onbekende skrywer, word vermeld dat die priester-koning “’n Christen-navigator” gestuur het wat Da Gama-hulle veilig oor die Indiese Oseaan laat vaar het na Kalikoet (destyds die belang­rikste handelsentrum in Suid-Indië) wat op 20 Mei 1498 bereik is. Da Gama slaag dus ná ’n moeilike seereis van 316 dae – waarvan 209 onder seil – om die seeroete na die Ooste oop te stel – een van die uitsonderlikste prestasies in die seevaartgeskiedenis en van wêreldbelang in verskeie ander opsigte, insluitende die godsdiens*. Met Da Gama se terugkeer in Lissabon in September 1499 was daar ’n helde-ontvangs vir hom. Da Gama het nog twee reise na Indië onder­neem, onderskeidelik in 1502–1503 en 1524. Tydens die laaste seereis as onderkoning van Indië, is hy kort na sy aankoms oorlede.

Vir verdere lees: Eric Axelson 1998. Vasco da Gama: The Diary of his Travels Through African Waters 1497–1499. Somerset-Wes: Stephen Phillips.

Sidebar