DA SILVEIRA, GONÇALO

DA SILVEIRA, GONÇALO (1526–1561) is naby Lissabon gebore. Sy ouers is vroeg oorlede en hy is deur sy suster en haar man, die markies van Tavora, grootgemaak. Hy het by die Franciskaanse klooster van San­ta Margarida skoolgegaan en aan die Uni­­versiteit van Coimbra gestudeer. In daardie tyd het hy by die Jesuïete-orde aan­ge­sluit. In 1555 is Da Silveira as hoof van die Je­suïete na Indië gestuur. Ignatius* van Loy­ola, die stigter van die Orde, het enkele maande voor sy dood die aanstelling self goedgekeur. Daarna word hy na Suidoos-Afrika as sendeling gestuur. Hy kom in 1560 in Mosambiek aan. Binne die eerste sewe weke doop* hy die Makaranga-hoofman, Gamba, en sowat 450 lede van sy kraal. Teen die einde van sy eerste jaar het hy met die Sambesirivier opgetrek op pad na die hoofstad van die Monomotapa waar hy op die dag ná Kersfees aankom. Nie lank daarna nie, het hy die hoofman en ’n aantal van sy onderdane gedoop. Die Arabiere van Mosambiek het egter kwaadwillige gerugte oor Da Silveira begin versprei wat die ore van die hoofman bereik het. Op 6 Maart 1561 het Da Silveira die eerste Christen-martelaar van Suidelike Afrika geword toe die hoofman hom wreed laat vermoor het.

 

Sidebar