DA VINCI CODE, THE

DA VINCI CODE, THE, is ’n speurverhaal deur die Amerikaner Dan Brown wat in 44 tale vertaal is met verkope van sowat 40 miljoen kopieë teen 2006.

The Da Vinci Code handel oor bepaalde teo­rieë oor die legende van die Heilige Graal, die rol wat Leonardo da Vinci* met sy Die laaste avondmaal en Mona Lisa daar­in sou gespeel het, en die plek van Maria Magdalena* in die geskiedenis van die Christendom*, en beweer dat dit ge­heime rituele en gebruike verklaar wat deur die eeue ontstaan het.

Veral Brown se inleidende stelling lei tot baie omstredenheid: “Fact: (…) All descriptions of artwork, architecture, documents, and secret rituals in this novel are accurate.” Dié aanspraak lok kritiek uit van Christen­groepe en -kerke, veral die Katolieke Kerk*, en ’n aantal boeke word geskryf om stel­lings in die boek te weerlê. In Maart 2005 veroordeel die aartsbiskop* van Genoa The Da Vinci Code en dié wat dit verkoop, hoofsaaklik as gevolg van wat hy beskou as voor­oordele teen die Katolieke Kerk. Ken­ners beskuldig Brown van slordige navor­sing en verdraaiing van historiese feite, veral omdat hy nie duidelik onderskei tussen feit en fiksie nie, en teorieë waaroor kenners onseker is, as feit aanvaar en dit só oordra.

Sidebar