DA VINCI, LEONARDO DI SER PIE­RO

DA VINCI, LEONARDO DI SER PIE­RO (1452–1519) is as ’n buite-egtelike kind naby Florence, Italië, gebore. Ondanks ’n beperkte opvoeding onderskei hy hom op verskillende terreine. Sy loopbaan begin in 1481 as hofmusikant in Milaan. Opdragte om waterkanale en militêre strukture te ontwerp, het gevolg. Sy skets van die Vitruvian Man, ’n studie van die dimensies van die menslike liggaam, verbeeld sy intense belangstelling in die anatomie. Hy word hoofsaaklik onthou vir sy skilderkuns waarvan Die laaste avondmaal, ’n fresko in Milaan, wat weens sy eksperimentele fresko-tegniek nooit tot volle glorie gerestoureer kan word nie, asook die Mona Lisa (in die Louvre in Parys), die enigmatiese skildery van ’n vrou, die beroemdste is. Leonardo was minder afhanklik van die kerk as sy tydgenote, maar sy beperkte port­folio toon dat hy wel kerklike opdragte ontvang het. Hy was nooit besonder godsdienstig nie. Sy studies van madonnas, waaronder dié van Die maagd met die Kind en St Anna en die voorstudie, bekend as die Burlington House Cartoon, is van sy “godsdienstige” werke. Hy was visionêr in sy denke en kan met reg as ’n intellektuele reus bestempel word. In 1516 of 1517 het hy in diens van die Franse koningshuis getree, waar hy gesterf het.

Vir verdere lees: Charles Nicholl 2004. Leonardo da Vinci: The Flights of the Mind. Londen: Penguin Books/Allen Lane. H Anna Suh (red) 2005. Leonardo’s Notebooks. New York: Black Dog & Leventhal Publishers.

 

Selfportret van Leonardo da Vinci in rooi kryt, ongeveer 1512–1515

Sidebar