DALAI LAMA

DALAI LAMA (letterlik: “die leraar van wysheid wat so wyd as die oseaan strek”) word as die hoogste godsdienstige gesag van die Tibetaanse Boeddhisme* beskou, die reïnkarnasie van Avalokitesvara, die “Boeddha van Deernis”. Die eerste Dalai Lama was Gendrun Drub (1391–1474). Die huidige Dalai Lama is op 6 Julie 1935 in ’n dorpie in noordoos-Tibet gebore. By sy geboorte het hy die naam Lhamo Dhon­drub ontvang. Wanneer ’n Dalai Lama sterf, glo die Tibetane, kry sy siel toegang tot die liggaam van ’n pasgebore babaseuntjie. Toe die klein Dhondrub twee jaar oud was het Boeddhiste-geestelikes hom ná ’n lang soektog aangewys as die veertiende Dalai Lama, met die nuwe naam van Tenzin Gyatso. In Oktober 1939 is die seuntjie – met ’n aantal raadgewers en regente om hom by te staan – as staatshoof en gees­telike leier in die hoofstad Lhasa gekroon. Toe die Chi­nese Kommunistiese leër Tibet in 1950 binnegeval het, moes hy, skaars 15 jaar oud, met die Chinese oor die toe­koms van Tibet on­derhandel. Toe die mense van Tibet in 1959 teen die Chinese opgestaan het – ’n opstand wat ru onderdruk is – het die jong Dalai Lama met 80 000 volgelinge na Indië ge­vlug om ’n regering in ballingskap te vestig. In die jare wat gevolg het, het Gyatso verskeie reise na talle lande – ook na Suid-Afrika – onder­neem. In 1989 is die Nobel-vredesprys aan hom toege­ken.

 

Sidebar