DAMARAS EN DIE CHRIS­TELIKE GE­LOOF

DAMARAS EN DIE CHRIS­TELIKE GE­LOOF. Die Damara woon verspreid oor sentraal-noord-Namibië. Een van baie oorsprong-teorieë is dat die Damara uit Wes-Afrika gekom het, lank vóór die suidwaartse migrasie van swart volke uit Oos-Afrika. Die Herero* is aanvanklik nie van die Damara onderskei nie en noord-Namibië is daarom deur Jonker Afrikaner en die meeste 19de-eeuse sen­dinggenootskappe* “Damaraland” genoem.

Die Damara praat Damara-Nama (Khoe­k­hoegowab) en woon in uitgebreide patriliniêre familiegroepe, bestaande uit die pa, sy vroue en kinders en laasgenoemde se kinders. Hierdie uitgebreide families bestaan as selfstandige sosiaal-ekonomiese en politieke eenhede, wat deur die oudstes van elke gemeenskap regeer word. Die Herero en die sendelinge* het die Damara “Bergdamara” genoem omdat hulle in klein nedersettings in die omge­wing van bergreekse gewoon het, soos hulle stamname aandui: Khomas Hochlanders, Ha­kosberg-mense, Erongoberg-mense, Brand­­berg-mense, Paresisberg-mense, Namib-men­se, Sandduin-mense, Swakoprivier-men­se, Kuisebrivier-mense, Sesfontein-mense. Die Damara het tradisioneel ’n ekonomie van handel in ringe, krale, messe en pylpunte van gesmelte koper en yster, asook tabak, bedryf.

Die Rynse Sendinggenootskap was eerste om in 1845 die evangelie* by Otjimbingwe aan die Damaras te verkondig. Daar het evangelis Daniel Cloete hulle eerste pastor geword. Saam met die Damara-gemeente het hy voor 1870 na Omaruru verskuif. In 1871 het sendeling Heidmann op Rehoboth ook ’n Damara-gemeente begin, maar die hoofstasie van die Rynse “Damara-sending” is in 1871 in Okombahe gevestig, nadat die plaaslike Herero-hoofman die grond aan die Damara-gemeente geskenk het.

Vanaf Okombahe het die Damara-sen­ding versprei, bv na die plaas Gaub, waar dr Hermann Vedder* ’n opleidingsentrum vir evangeliste begin het, met navor­sing oor die Damara. Die Rynse Sending­genootskap het grotendeels gehelp om die Damara by stamsentra te vestig, een van die redes vir die getroue lidmaatskap van Damara-lidmate in feitlik alle gemeentes van die Rynse Sendingkerk, sedert 1957 die Evangeliese Lutherse Kerk.

Vir verdere lees: GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in NamibiaAn Introduction. Windhoek: Gamsberg Macmillan. HA Eichab en MT Omeb 2001. A Historical Perspective of the Damara Traditional Authorities: The Eight Major Clans, History, Leadership and Cus­toms. Ongepubliseerde manuskrip. K Mbu­ende 1986. Namibia, the Broken Shield: Ana­tomy of Imperialism and Revolution. Lund: Liber Vörlag. H Vedder 1928. “The Berg Damara” in: CHL Vedder en L Fourie, The Native Tribes in South West Africa. Kaapstad: Cape Times.

Sidebar