DAMASKUS

DAMASKUS was een van die belangrikste stede in Sirië* gedurende die Nuwe-Testa­mentiese* tyd, en was sedert die verowe­ring daarvan in die vierde eeu vC deur Aleksander* die Grote, ook ’n beduidende kul­tu­rele invloed gedurende die Helle­nistiese* periode. Damaskus ly egter in die volgende paar eeue swaar onder wedywe­ring tussen die Ptolemeërs en die Seleukiede vir beheer. Die Nabateërs se beheer (sedert 85 vC) kom tot ’n einde wanneer die Romeine direkte beheer oor die stad neem deurdat Antonius vir Kleopatra* daaroor aanstel (34 vC), en uiteindelik saam met die res van Sirië en Palestina* deel bly van die Romeinse Ryk*. Damaskus is vir die Christelike kerk* van belang onder andere vanweë Paulus* (Saulus) se dramatiese ervaring aan die buitewyke van Damaskus, waarheen hy op pad was om Christene* te gaan vervolg. Klaarblyklik het ’n deel van die groot Jood­se gemeenskap in dié stad Christene ge­word en is as ’n bedreiging vir die sina­go­ges* ervaar. In ’n ontmoeting met Christus* (Hand 9:1-19; 22:6-16; 26:12-23; vgl Gal 1:15-17) ontvang Paulus soos ’n profeet* van ouds die roeping om die evangelie* oor Christus onder die heidennasies te ver­kondig. Elders maak Paulus ook melding van sy ontsnapping oor die mure van Damaskus deurdat hy in ’n mandjie laat sak is (2 Kor 11:33).

 

Sidebar