DANDALA, HAMILTON MVUMELWANO (MVUME)

DANDALA, HAMILTON MVUMELWANO (MVUME) (1951–) is gebore as die seun van ’n Metodistepredikant (Kyk by: Metodisme), en het aan die teologiese seminarium in Alice (Oos-Kaap) en die Universiteit van Cambridge in Engeland gestudeer. In 1978 word hy die eerste swart Metodistepredikant van ’n veelrassige gemeente (Empangeni). Hy verwerf in die 1980’s bekendheid as konflikmediator in apartheid*-Suid-Afrika, ook tydens die hostelkrisis tussen 1990 en 1994. Van 1991 af was Dandala die senior predikant van die Central Methodist Mission in Johannesburg, Suid-Afrika se grootste veelrassige Metodis­tege­­meente. In 1997 is hy verkies as voorsittende biskop van die Metodistekerk van Suider-Afrika met meer as 2 miljoen lidma­te in sewe lande. Dandala het ook as president van die Suid-Afrikaanse Raad van Ker­ke* en as moderator* van die streekliggaam van die Wêreldraad van Kerke gedien. In 2003 word hy die algemene sekretaris van die All Africa Conference of Churches (AACC), ’n gemeenskap van 168 kerke in 39 lande wat ongeveer 120 miljoen lidmate verteenwoordig. Vanuit Nairobi, Kenia, be­ywer Dandala hom in hierdie hoedanigheid vir vrede en genesing in Afrika, en om so­sio-politieke en ekonomiese euwels uit die weg te ruim. In 2009 begewe hy hom op die terrein van die partypolitiek en word Cope se parlementêre leier. Binnegevegte in dié party laat hom egter uit die politiek tree. Hy is ’n ere-professor aan die Universiteit van Pretoria. Hlomla Dandala, gewilde akteur en regisseur, is sy seun.

 

Sidebar