DANEEL, GEORGE MURRAY

DANEEL, GEORGE MURRAY (1904– 2004) is op Calvinia as die seun van ’n NG Kerk*-predikant gebore. Ná twee onsuksesvolle jare aan die Universiteit van Kaap­stad, is hy na die Universiteit van Stellen­bosch om teologie* te studeer. In 1929 is hy gelegitimeer en as hulpprediker na sy ge­boortedorp beroep. Gedurende sy studiejare is hy vir die Westelike Provinsie se rugbyspan gekies. Hy maak sy debuut as agsteman vir die Springbokrugbyspan in 1928 toe hy in vier toetse teen die All Blacks gespeel het. In 1931–1932 was hy deel van die Bennie Osler-span wat vier toetse teen Engeland gespeel het. In 1940 het Daneel as kapelaan by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en hy is in 1941 na El Alamein gestuur waar een van die belangrikste veldslae van die Tweede Wêreldoorlog* plaasgevind het. In 1953 het hy uit die bediening getree om hom aan die werk van Morele Herbewapening (Moral Rearmament) te wy – dertig jaar in Pretoria en sewe jaar in Suidwes-Afrika (nou Namibië). Hy was een van die eerste kerklui wat hom openlik teen apartheid* uitgespreek het. Daneel is minder as twee maande nadat hy sy 100ste verjaarsdag gevier het, oorlede – tot in daardie stadium was hy die oudste lewende oud-Springbok.

 

Sidebar