DANKBAARHEID

DANKBAARHEID gaan in die Bybel* veel dieper as blote woordgebruik. Die prominente voorafvermelding van Israel* se genadige uitredding uit Egiptiese sla­werny (Eks 20:2; Deut 5:6) plaas die totale lewe van die volk* van God, soos gekwalifiseer deur die Tien Gebooie*, onder die teken van dankbaarheid. Dieselfde gebeur in Rom 12:1-2. Nadat Paulus* in Rom 1–11 die grootheid van God se genade* beskryf het, doen hy “op grond van die groot ontferminge van God” ’n beroep op sy lesers/hoorders om nou hulle ganse lewe aan God toe te wy. Weer eens ontbreek die woord “dankbaarheid”, maar die saak is lewens­groot teenwoordig. Rom 1:21 bevestig dit: om God te dank en te eer* word as dié vereiste vir ware mens-wees beskryf. Die aspek van dank word pragtig deur die Heidelbergse Kategismus* opgevang wanneer dit die hele Christenlewe op die dankbaarheidsnoemer plaas. Verder reso­neer die motief van eer aan God (Deo gloria) besonder helder by Calvyn* en in die gereformeerde* tradisie.

Paulus se briewe* beklemtoon dank­baar­heid en danksegging ’n volle 36 keer. Volgens 1 Tess 5:18 en Kol 3:15 moet gelowi­ges* in alle omstandighede dankbaar wees – ’n gesindheid wat verwoord moet word in voortdurende danksegging (Ef 5:20; Kol 3:17).

Sidebar